Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 9:10-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En daar was ’n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in ’n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here.

11. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na ’n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid;

12. en hy het in ’n gesig ’n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien.

13. Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het;

14. en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep.

15. Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.

16. Want Ek sal hom toon hoeveel hy vir my Naam moet ly.

17. En Ananías het gegaan en in die huis gekom en hom die hande opgelê en gesê: Saul, broeder, die Here het my gestuur, naamlik Jesus wat aan jou verskyn het op die pad waarmee jy gekom het, sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.

18. En dadelik het daar iets soos skille van sy oë afgeval, en hy kon onmiddellik weer sien; en hy het opgestaan en is gedoop.

19. En nadat hy voedsel gebruik het, het hy weer sterk geword. En Saulus was ’n paar dae saam met die dissipels in Damaskus.

20. EN hy het dadelik Christus in die sinagoges verkondig, dat Hy die Seun van God is.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 9