Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 5:14-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue,

15. sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en op bedde en draagbare gelê het, met die bedoeling dat, as Petrus kom, al was dit net sy skaduwee op iemand van hulle sou val.

16. En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees.

17. EN die hoëpriester het opgestaan en almal wat saam met hom was — dit is die party van die Sadduseërs — en hulle was met nydigheid vervul,

18. en hulle het die hande aan die apostels geslaan en hulle in die openbare gevangenis gesit.

19. Maar ’n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê:

20. Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.

21. En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer. Maar die hoëpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van die kinders van Israel bymekaargeroep; en hulle het na die gevangenis gestuur om hulle te laat haal.

22. Maar toe die dienaars daar kom, het hulle hul nie in die gevangenis gekry nie; en hulle het omgedraai en berig gebring en gesê:

23. Die gevangenis het ons in alle sekerheid toegesluit gevind, en die wagte het buite gestaan voor die deure; maar toe ons oopmaak, kry ons niemand daarbinne nie.

24. En toe die hoëpriester en die hoofman van die tempel en die owerpriesters hierdie woorde hoor, was hulle daarmee verleë wat nou hiervan sou word.

25. En daar kom een en bring aan hulle berig en sê: Kyk, die manne wat julle in die gevangenis gesit het, staan in die tempel en leer die volk.

26. Daarop gaan die hoofman met die dienaars en bring hulle, maar nie met geweld nie, uit vrees vir die volk dat hulle gestenig sou word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 5