Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 28:8-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak.

9. En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees.

10. En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien.

11. EN ná drie maande het ons afgevaar in ’n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het.

12. En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly.

13. Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik,

14. waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.

15. En die broeders wat van ons lotgevalle gehoor het, het ons daarvandaan tegemoetgekom tot by die Áppius-mark en die Drie Herberge; en toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed gevat.

16. En nadat ons in Rome gekom het, het die hoofman oor honderd die gevangenes oorgelewer aan die bevelhebber van die leër. Maar aan Paulus is dit vergun om op sy eie te woon met die soldaat wat hom moes oppas.

17. En ná drie dae het Paulus die vernaamste Jode saamgeroep en, nadat hulle vergader het, vir hulle gesê: Broeders, alhoewel ek niks gedoen het teen die volk of die voorvaderlike sedes nie, is ek uit Jerusalem as gevangene oorgelewer in die hande van die Romeine.

18. Hulle het my ondersoek en wou my loslaat, omdat daar in my niks was wat die dood verdien nie.

19. Maar toe die Jode daarteen opkom, was ek verplig om my op die keiser te beroep, nie asof ek iets het om my volk van te beskuldig nie.

20. Om hierdie rede dan het ek versoek om u te sien en toe te spreek, want dit is oor die hoop van Israel dat ek met hierdie ketting geboei is.

21. En hulle het vir hom gesê: Ons het geen briewe oor u van Judéa ontvang nie; ook het niemand van die broeders hier aangekom en iets slegs van u berig of gepraat nie.

22. Maar ons verlang om van u te hoor wat u dink; want wat hierdie sekte betref, is dit ons bekend dat oral daarteen gespreek word.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 28