Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 27:9-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En omdat ’n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku

10. en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe.

11. Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus;

12. en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, ’n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste.

13. En toe die suidewind saggies waai, het hulle gedink dat hulle hul voorneme kon uitvoer en die ankers gelig en langs Kreta verbygeseil.

14. Maar nie lank daarna nie het ’n stormwind wat Euroklídon genoem word, daarvandaan neergeslaan.

15. En toe die skip meegesleep is en nie teen die wind op kon seil nie, het ons dit opgegee en weggedrywe.

16. En toe ons onderkant ’n eilandjie kom wat Clauda genoem word, kon ons met moeite die sleepbootjie onder beheer hou.

17. En nadat hulle dit opgetrek het, het hulle gebruik gemaak van hulpmiddels deur die skip onderom te gord; en omdat hulle bang was om op die Sirtis te lande te kom, het hulle die seile neergehaal; en so het hulle dan weggedrywe.

18. En terwyl ons geweldig deur die storm geteister is, het hulle op die volgende dag van die vrag uitgegooi;

19. en op die derde dag het ons met ons eie hande die skeepsgereedskap uitgegooi.

20. En omdat die son en ook die sterre baie dae lank nie geskyn het nie, en ’n hewige storm ons gedruk het, is eindelik alle hoop om gered te word, ons ontneem.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 27