Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 22:15-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. want jy sal vir Hom by al die mense ’n getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.

16. En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.

17. En toe ek in Jerusalem teruggekom het en besig was om in die tempel te bid, het ek in ’n verrukking van sinne gekom

18. en Hom gesien, en Hy het vir my gesê: Maak gou en gaan haastig uit Jerusalem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie.

19. En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan;

20. en toe die bloed van Stéfanus, u getuie, vergiet is, het ek ook self daarby gestaan en sy vermoording goedgekeur en die klere opgepas van die wat hom doodgemaak het.

21. En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene.

22. Tot by hierdie woord het hulle na hom geluister; toe verhef hulle hul stem en sê: Weg van die aarde met so ’n mens, want hy behoort nie te lewe nie!

23. En terwyl hulle so skreeu en hulle klere afgooi en stof in die lug werp,

24. het die owerste oor duisend bevel gegee dat hy in die kamp gebring moes word, en gesê dat hulle hom met géselslae moes ondersoek, sodat hy kon weet om watter rede hulle so teen hom uitroep.

25. En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om ’n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel?

26. Toe die hoofman oor honderd dit hoor, gaan hy dit aan die owerste oor duisend vertel en sê: Pas op wat u gaan doen, want hierdie man is ’n Romein.

27. En die owerste oor duisend het gekom en hom gevra: Sê vir my of jy ’n Romein is? En hy antwoord: Ja.

28. Toe sê die owerste oor duisend: Ek het hierdie burgerreg vir ’n groot som verkry! En Paulus sê vir hom: Maar ek het dit deur geboorte.

29. Daarop het die wat hom sou ondersoek, hom dadelik laat staan; en die owerste oor duisend het ook gevrees, omdat hy nou wis dat hy ’n Romein was en hy hom geboei het.

30. EN die volgende dag wou hy met sekerheid weet waarvan hy deur die Jode beskuldig was; en hy het hom van sy boeie losgemaak en bevel gegee dat die owerpriesters en hulle hele Raad moes vergader; en hy het Paulus afgebring en voor hulle laat staan.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 22