Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 2:25-42 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie.

26. Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop.

27. Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie.

28. U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig.

29. Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe.

30. Omdat hy dan ’n profeet was en geweet het dat God vir hom met ’n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit,

31. het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie.

32. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.

33. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.

34. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand

35. totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete.

36. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.

37. TOE hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

38. En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

39. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

40. En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.

41. Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring.

42. En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 2