Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 19:5-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.

6. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

7. En altesaam was hulle omtrent twaalf manne.

8. En hy het in die sinagoge ingegaan en vrymoediglik drie maande lank met hulle geredeneer en hulle probeer oortuig van die dinge wat die koninkryk van God aangaan.

9. Maar toe sommige hulle verhard en ongehoorsaam was en voor die menigte aanhou kwaadspreek van die Weg, het hy van hulle weggegaan en die dissipels afsonderlik geneem en elke dag in die skool van ’n sekere Tiránnus samesprekinge gehou.

10. En dit het twee jaar lank geduur, sodat al die inwoners van Asië die woord van die Here Jesus gehoor het, Jode sowel as Grieke.

11. En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen,

12. sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.

13. En sommige van die rondtrekkende Jode, duiwelbesweerders, het dit gewaag om die Naam van die Here Jesus te noem oor die wat bose geeste gehad het, en te sê: Ons besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!

14. Dit was sekere sewe seuns van Skeva, ’n Joodse owerpriester, wat dit gedoen het.

15. Maar die bose gees het geantwoord en gesê: Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?

16. Toe spring die man in wie die bose gees was, op hulle en oormeester en oorweldig hulle, sodat hulle naak en gewond uit daardie huis gevlug het.

17. En dit het bekend geword aan al die Jode en Grieke wat in Éfese woon, en vrees het op hulle almal geval, en die Naam van die Here Jesus is groot gemaak.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 19