Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:7-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus.

8. En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het.

9. Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.

10. Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.

11. En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.

12. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ’n groot aantal, vroue en manne.

13. Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep.

14. Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.

15. EN die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.

16. En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.

17. Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.

18. En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode — omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.

19. En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?

20. Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17