Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 17:14-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.

15. EN die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.

16. En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.

17. Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.

18. En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy ’n verkondiger is van vreemde gode — omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.

19. En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?

20. Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.

21. Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.

22. Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.

23. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.

24. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

25. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 17