Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 13:2-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.

3. En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.

4. So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleúcië en daarvandaan weggevaar na Ciprus.

5. En toe hulle in Sálamis kom, het hulle die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig; en hulle het ook Johannes as helper gehad.

6. En hulle het die eiland deurgegaan tot by Pafos en ’n towenaar gevind, ’n valse profeet, ’n Jood met die naam van Bar-Jesus.

7. Hy was by die goewerneur Sérgius Paulus, ’n verstandige man. Dié het Bárnabas en Saulus laat roep en het versoek om die woord van God te hoor.

8. Maar Élimas die towenaar — want so word sy naam vertaal — het hulle teëgestaan en het probeer om die goewerneur afkerig te maak van die geloof.

9. Maar Saulus, dit is Paulus, vervul met die Heilige Gees, het die oë op hom gehou en gesê:

10. Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?

11. En nou, kyk, die hand van die Here is op jou, en jy sal blind wees en die son ’n tyd lank nie sien nie. En onmiddellik het daar donkerheid en duisternis op hom geval, en hy het rondgegaan en gesoek na mense wat hom by die hand kon lei.

12. Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.

13. EN Paulus en sy metgeselle het afgevaar van Pafos en by Perge in Pamfílië gekom. En Johannes het hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer.

14. Maar hulle het van Perge af verder gegaan en in Antiochíë in Pisídië aangekom, en hulle het op die sabbatdag in die sinagoge gegaan en gaan sit.

15. En ná die lesing van die wet en die profete het die hoofde van die sinagoge na hulle gestuur en gesê: Broeders, as julle ’n woord van opwekking vir die volk het, spreek dan!

16. Toe staan Paulus op, wink met die hand en sê: Israeliete en julle wat God vrees, luister!

17. Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met ’n hoë arm hulle daaruit gelei.

18. En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 13