Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:4-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. En hy het die oë op hom gehou en vol vrees gesê: Wat is dit, my heer? Toe antwoord hy hom: Jou gebede en jou aalmoese het voor God in gedagtenis gekom.

5. Stuur dan nou manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word.

6. Hy is tuis by ’n sekere Simon, ’n leerlooier, wie se huis by die see is. Hy sal jou sê wat jy moet doen.

7. En toe die engel wat met Cornelius gespreek het, weg was, roep hy twee van sy huisbediendes en ’n vroom soldaat van die wat altyd by hom was,

8. en vertel hulle alles en stuur hulle na Joppe.

9. En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid;

10. en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ’n verrukking van sinne oor hom gekom:

11. hy sien die hemel geopend en ’n voorwerp soos ’n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word.

12. Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel.

13. Toe kom daar ’n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet!

14. En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.

15. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.

16. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.

17. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon.

18. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.

19. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.

20. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10