Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:18-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.

19. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.

20. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.

21. En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?

22. En hulle sê: Cornelius, ’n hoofman oor honderd, ’n regverdige en godvresende man, wat ’n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ’n goddelike openbaring ontvang deur ’n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.

23. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan.

24. Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep.

25. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys.

26. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ’n mens.

27. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het;

28. en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.

29. Daarom het ek, toe ek gehaal is, gekom sonder om teë te spreek. Ek vra dan om watter rede julle my laat haal het.

30. En Cornelius sê: Vier dae gelede was ek besig om te vas tot op hierdie uur, en die negende uur het ek in my huis gebid,

31. en meteens staan daar ’n man voor my in ’n blink kleed en sê: Cornelius, jou gebed is verhoor en jou aalmoese is voor God in herinnering gebring.

32. Stuur dan na Joppe en laat Simon haal wat ook Petrus genoem word. Hy vertoef in die huis van Simon, ’n leerlooier, by die see; as hy kom, sal hy met jou spreek.

33. Ek het toe op die daad na u gestuur, en u het goed gedoen om te kom. Ons is dan nou almal voor die aangesig van God aanwesig om alles te hoor wat deur God aan u opgedra is.

34. En Petrus het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie,

35. maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.

36. Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus — Hy is die Here van almal.

37. Julle weet van die saak wat deur die hele Judéa gebeur het en van Galiléa af begin het, ná die doop wat Johannes gepreek het,

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10