Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 10:15-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.

16. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.

17. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon.

18. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.

19. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.

20. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.

21. En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?

22. En hulle sê: Cornelius, ’n hoofman oor honderd, ’n regverdige en godvresende man, wat ’n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ’n goddelike openbaring ontvang deur ’n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.

23. En hy het hulle binnegenooi en geherberg. En die volgende dag het Petrus saam met hulle afgereis, en enkele van die broeders uit Joppe het met hom saamgegaan.

24. Die dag daarop het hulle in Cesaréa aangekom. En Cornelius was hulle te wagte, en hy het alreeds sy familie en besondere vriende bymekaargeroep.

25. Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys.

26. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ’n mens.

27. En onderwyl hy met hom spreek, gaan hy binne en vind baie wat vergader het;

28. en hy sê vir hulle: Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek; maar God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 10