Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3:2-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.

3. Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie;

4. alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer.

5. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër;

6. wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik.

7. Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag.

8. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry

9. en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;

10. sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word,

11. of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik.

12. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.

13. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.

14. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

15. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar.

16. Maar wat ons reeds bereik het — laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees.

17. Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.

Lees volledige hoofstuk Filippense 3