Ou Testament

Nuwe Testament

Filippense 3:12-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.

13. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.

14. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

15. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar.

16. Maar wat ons reeds bereik het — laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees.

17. Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.

18. Want baie — van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê — wandel as vyande van die kruis van Christus.

19. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.

20. Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,

21. wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

Lees volledige hoofstuk Filippense 3