Ou Testament

Nuwe Testament

2 Petrus 2:8-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke —

9. die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word;

10. en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie,

11. terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.

12. Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan

13. en die loon van die ongeregtigheid ontvang. Hulle ag die weelderigheid oordag ’n genot; hulle is skandvlekke en smette, weelderig in hul bedrieërye as hulle met julle saamsmul;

14. met oë vol van owerspel, wat nie ophou om te sondig nie; hulle verlok onvaste siele, hulle het ’n hart geoefen in hebsug, hulle is kinders van die vervloeking.

15. Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal, en die weg gevolg van Bíleam, die seun van Beor, wat die loon van ongeregtigheid liefgehad het,

16. maar die bestraffing van sy eie oortreding ontvang het: die stom lasdier het met die stem van ’n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder.

17. Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ’n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word.

18. Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel.

19. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword.

20. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste.

21. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.

22. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

Lees volledige hoofstuk 2 Petrus 2