Ou Testament

Nuwe Testament

1 Johannes 2:5-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.

6. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.

7. Broeders, dit is geen nuwe gebod wat ek aan julle skryf nie, maar ’n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het.

8. En tog skryf ek aan julle ’n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds.

9. Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe.

10. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie.

11. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het.

12. Ek skryf aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om sy Naam ontwil.

13. Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek skryf aan julle, jongmanne, omdat julle die Bose oorwin het. Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle die Vader ken.

14. Ek het aan julle geskrywe, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af is. Ek het aan julle geskrywe, jongmanne, omdat julle sterk is en die woord van God in julle bly en julle die Bose oorwin het.

Lees volledige hoofstuk 1 Johannes 2