hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die vierde visioen: die hoëpriester Jesua

1. Die engel het Jesua, die hoëpriester, vir my gewys. Hy het voor die engel van die Here gestaan. Die Satan het regs van die engel gestaan, besig om Jesua van baie dinge aan te kla.

2. Die Here het vir die Satan gesê: “Ek, die Here, verwerp jou aanklagte, Satan. Die Here wat Jerusalem gekies het, bestraf jou. Hierdie man is soos ’n brandende stuk hout wat uit die vuur gered is.”

3. Jesua het vuil klere aangehad soos hy daar voor die engel gestaan het.

4. Die engel het vir die ander wat daar staan, gesê: “Trek sy vuil klere uit.” Vir Jesua het hy gesê: “Sien jy, ek het jou sonde van jou af weggeneem en ek trek nou vir jou feesklere aan.”

5. Toe sê ek: “Kan hy ook ’n skoon tulband op sy kop kry?” Hulle het toe ’n skoon priesterlike tulband op sy kop gesit en nuwe klere vir hom aangetrek terwyl die engel van die Here daar staan.

6. Daarna het die engel van die Here baie plegtig met Jesua gepraat en gesê:

7. “Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: As jy gehoorsaam is aan my wil en my vereistes nakom, sal jy gesag hê oor my tempel en sy binnehowe. Jy sal toegang tot My hê, saam met die ander wat hier staan.

8. Luister na My, Jesua, die hoëpriester, en al jou ander priesters. Julle is die simbole van goeie dinge wat kom. Binnekort gaan Ek my dienaar, die Loot, bring.

9. Kyk na die juweel wat Ek voor Jesua neersit, ’n enkele steen met sewe fasette. Ek sal iets daarin graveer, sê die Here, die Almagtige, en Ek sal die sonde van hierdie land op een enkele dag wegneem.

10. Op daardie dag, sê die Here, die Almagtige, sal elkeen van julle julle bure oornooi na julle huise toe om te deel in julle vrede en voorspoed.”