Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 12:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Hierdie boodskap wat gaan oor die lot van Israel kom van die Here: “So sê die Here wat die hemelkoepel oopgespan het, wat die fondamente van die aarde gelê het en wat die gees in mense gevorm het.

2. Ek sal Jerusalem en Juda maak soos ’n bedwelmende drank. Jerusalem sal beleër word, en al die dorpe van Juda.

3. Op daardie dag sal Ek Jerusalem ’n swaar klip maak, ’n las vir al die nasies. Nie een van die nasies wat probeer om die klip op te tel, sal ongedeerd daarvan afkom nie.

4. “Op daardie dag, sê die Here, sal Ek elke perd laat skrik en elke ruiter sal waansinnig raak. Ek sal waghou oor die volk van Juda, maar Ek sal die perde van die vyand verblind.

5. Die stamme van Juda sal by hulleself sê: ‘Die inwoners van Jerusalem vind hulle krag in die Here, die Almagtige, hulle God.’

6. “Op daardie dag sal Ek die stamme van Juda maak soos ’n vuur onder ’n hoop hout, of soos ’n brandende fakkel tussen afgesnyde graan. Hulle sal al die naburige nasies na alle kante toe verbrand, terwyl Jerusalem veilig sal wees.

7. Die Here sal die oorwinning eers aan die res van Juda gee, nog voor Jerusalem, sodat die inwoners van Jerusalem en die koninklike lyn van Dawid nie groter eer as die res van Juda ontvang nie.

8. “Op dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem beskerm. Die swakste onder hulle sal so sterk wees soos koning Dawid! Die koninklike afstammelinge sal soos God wees, soos die engel van die Here wat voor hulle uitgaan.

9. “My plan is om al die nasies wat teen Jerusalem saamtrek, te vernietig.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 12