Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 1:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Die engel het vir my gesê: “Laat hierdie boodskap weerklink sodat almal dit kan hoor: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het nog steeds ’n brandende liefde vir Jerusalem en Sion.

15. Maar Ek is woedend kwaad vir die ander nasies wat vrede en sekuriteit geniet. Ek was nie so kwaad vir my volk nie, dit is die heidennasies wat die ramp aangehelp het.’

16. “Daarom, dit is wat die Here sê: ‘Ek keer in genade weer terug na Jerusalem toe. My tempel sal herbou word, sê die Here, die Almagtige, en planne sal gemaak word vir die heropbou van Jerusalem.’

17. Sê dit ook: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Die stede van Israel sal weer met voorspoed oorstroom word en die Here sal weer vir Sion vertroos en Hy sal Jerusalem weer kies as sy eie.’”

18. Ek het opgekyk en vier horings gesien.

19. “Wat is dit?” het ek aan die engel wat met my gepraat het, gevra. Hy het geantwoord: “Hierdie horings verteenwoordig die wêreldmagte wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.”

20. Die Here het my toe vier ystersmede gewys.

21. “Wat kom hierdie manne doen?” het ek gevra. Die engel het geantwoord: “Die ystersmede kom om die vier horings wat Juda verstrooi en verneder het, te verskrik. Hulle sal die vier horings neergooi en tot ’n val bring.”

Lees volledige hoofstuk Sagaria 1