Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 3:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Naomi het vir haar skoondogter Rut gesê: “My dogter, dis tyd dat ek vir jou ’n vaste woonplek kry sodat jy in die toekoms versorg sal wees.

2. Jy was mos saam met Boas se diensmeisies. Boas is ’n naby bloedverwant van ons. Kyk, hy gaan vannag gars op die dorsvloer dors.

3. Gaan bad, sit reuk-water aan en trek mooi klere aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voordat hy klaar geëet en gedrink het nie.

4. Let mooi op waar hy gaan slaap. Gaan dan soontoe, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om dan te doen.”

5. “Ek sal presies so maak soos Ma vir my sê,” antwoord Rut.

6. Sy het dié nag na die dorsvloer toe gegaan en gemaak soos haar skoonma gesê het.

7. Nadat Boas klaar geëet het, was hy baie vrolik. Hy het langs die hoop graan gaan lê om te slaap. Rut het stilletjies nadergekom, sy voete oopgemaak en daar gaan lê.

8. Omtrent middernag skrik Boas wakker en draai om. Groot was sy verbasing toe hy agterkom dat ’n vrou daar by sy voete lê.

9. “Wie is jy?” vra hy.“Ek is Rut, u diensmeisie,” antwoord sy. “Ontferm u tog oor my, want u is my losser.”

10. “Die Here seën jou, my dogter!” sê hy. “Jou lojaliteit en getrouheid aan jou skoonma is nou nog meer as voorheen. Jy het nie agter enige jong mans, ryk of arm, aangeloop nie.

11. Wees verseker: Jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, my dogter. Ek sal doen wat nodig is, want almal in die dorp weet jy is ’n eerbare vrou.

Lees volledige hoofstuk Rut 3