Ou Testament

Nuwe Testament

Rut 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In Betlehem was daar ’n welgestelde, invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimelek.

2. Eendag vra Rut, die Moabitiese vrou, vir Naomi: “Mag ek gaan are optel op die landerye by iemand wat my sal toelaat om dit te doen?”Naomi antwoord haar: “Dis goed so, my dogter, gaan gerus.”

3. Rut is na die landerye toe om agter die snyers te gaan are optel. Dit gebeur toe dat sy op die landerye van Boas, die bloedverwant van haar skoonpa, beland.

4. Boas kom toe juis van Betlehem af en groet sy werknemers: “Die Here is met julle!” het hy gesê.“Mag die Here u seën!” antwoord die snyers.

5. Toe vra Boas vir sy voorman: “Wie is daardie jong vrou?”

6. Die voorman antwoord hom: “Sy is die jong vrou uit Moab wat saam met Naomi teruggekom het.

7. Sy het vir my gevra of sy die are agter die snyers mag optel. Sy het nog die hele tyd aanmekaar gewerk, behalwe vir die kort tydjie toe sy daar onder die skuiling gaan rus het.”

8. Toe loop Boas na haar toe en sê vir Rut: “Luister, my dogter: Bly net hier by ons en tel hier are op. Moenie na ander landerye toe gaan nie. Bly gerus by die vroue wat vir my werk.

9. Kyk op watter deel van die landerye hulle oes en gaan saam met hulle. Ek het die werksmense opdrag gegee om jou nie lastig te val nie. As jy dors word, gaan drink gerus van die water in die houers wat my werkers vir hulle uit die put geskep het.”

10. Rut het diep voor hom gebuig en hom gevra: “Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ’n buitelander is?”

11. Boas antwoord haar: “Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy ná die dood van jou man aan jou skoonma betoon het. Ek het gehoor dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het om hier tussen vreemde mense te kom woon.

12. Mag die Here, die God van Israel, onder wie se vlerke jy kom skuiling soek het, jou ten volle beloon.”

Lees volledige hoofstuk Rut 2