Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:32-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. Van daardie dag af het hulle Gideon “Jerubbaäl” genoem. Dit beteken: “Laat Baäl self sy saak behartig.” Dit is Gideon wat Baäl se altaar afgebreek het.

33. Kort daarna het al die magte van Midian, Amalek en die ander mense uit die ooste ’n alliansie teen Israel gevorm. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en gaan kamp opslaan in die Jisreëlvlakte.

34. Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het op die ramshoring die oproep vir oorlog geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg.

35. Hy het boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur. Hy het hulle ook opgeroep om hom te volg. Hulle het almal by hom aangesluit.

36. Gideon het vir God gesê: “As dit regtig so is soos U gesê het dat U die Israeliete deur my gaan bevry, wys dit tog vir my.

37. Ek sal vannag ’n stuk wol op die dorsvloer los. As daar dou op die wol kom, maar die grond rondom bly droog, sal ek weet dat U my wil gebruik om die Israeliete te bevry.”

38. Dit het so gebeur. Gideon het die volgende môre vroeg opgestaan. Hy het die wol uitgedruk en ’n hele bak vol water daaruit gewring.

39. Toe sê hy vir God: “Moenie ongeduldig met my word nie. Kan ek nog net een keer vra. Laat die wol hierdie keer droog wees, terwyl die grond rondom vol dou is.”

40. God het dit daardie nag net so laat gebeur. Die wol was droog, maar die grond rondom was vol dou.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6