Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:22-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. Toe Gideon agterkom dat dit die Engel van die Here was, het hy hardop uitgeroep: “Ag tog, oppermagtige Here, ek het dan die Engel van die Here in die oë gekyk!”

23. “Dit is alles in orde,” het die Here vir Gideon gesê. “Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!”

24. Gideon het net daar ’n altaar vir die Here gebou. Hy het dit genoem “Die Here is Vrede”. Die altaar is nog al die tyd daar in Ofra van die Abiësriete.

25. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Gaan vat jou pa se tweede beste bul, die een wat sewe jaar oud is. Breek jou pa se altaar vir Baäl af. Kap die gewyde paal vir Asjera daar langsaan af.

26. Kom bou dan ’n stewige altaar vir die Here jou God hier by hierdie skans bo-op die heuwel. Offer die bul op die altaar as ’n brandoffer. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het.”

27. Gideon het tien mans uit sy wer-kers gevat en gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy het dit gedurende die nag gedoen omdat hy te bang was vir sy eie huisgesin en vir die stad se mense om dit gedurende die dag te doen.

28. Toe die mense van die stad vroeg die volgende môre opstaan, sien hulle dat Baäl se altaar afgebreek is en die gewyde paal daar langsaan afgekap is. Die tweede bul was ’n brandoffer op die nuutgeboude altaar.

29. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het oral gevra en na die persoon gesoek. Hulle het uitgevind dat dit Gideon, die seun van Joas, was wat dit gedoen het.

30. “Laat jou seun uitkom,” het die stad se mense van Joas geëis. “Hy moet tereggestel word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die Asjerapaal daar langsaan afgekap.”

31. Joas het vir die skare wat om hom saam gebondel het, geantwoord: “Moet julle nou Baäl se saak verdedig? Moet julle sy saak red? Die persoon wat dink hy moet vir Baäl instaan, moet sommer vanoggend nog tereggestel word. As Baäl ’n god is, kan hy mos vir sy eie saak veg. Dis tog sý altaar wat afgebreek is.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 6