Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3:25-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

25. Hulle het baie lank gewag. Toe die koning nie die deure van sy bovertrek oopmaak nie, het hulle ’n sleutel gekry en dit oopgesluit. Daar kry hulle hulle koning dood op die vloer.

26. Omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug.

27. Toe hy die heuwels van Efraim bereik, het hy op die ramshoring geblaas om hulle op te roep vir oorlog. Die Israeliete het uit die heuwels agter hom aan gekom.

28. “Volg my,” het hy vir hulle gesê. “Die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag.” Hulle het hom gevolg. Hulle het beheer oorgeneem oor die Jordaandriwwe na Moab toe sodat niemand daar kon deurgaan nie.

29. Hulle het die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle sterk en goeie soldate doodgemaak. Niemand kon wegkom nie.

30. Moab is daardie dag aan Israel onderwerp. Daar was 80 jaar lank vrede in die land.

31. Ná Ehud het Samgar, die seun van Anat, gekom. Hy het 600 Filistyne met ’n drywerstok doodgeslaan en Israel bevry.

Lees volledige hoofstuk Rigters 3