Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 21:15-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

15. Die volk het Benjamin jammer gekry omdat die Here hierdie oop kol tussen die stamme van Israel gelaat het.

16. Toe vra die leiers van die vergadering: “Waar kan ons nog vroue kry vir die ander Benjaminiete? Die vroue van Benjamin is almal uitgewis.”

17. Hulle het gesê: “Daar moet tog erfgename wees vir die Benjaminiete wat oorleef het. ’n Stam kan mos nie net so uit Israel verdwyn nie.

18. Ons kan nie ons dogters met hulle laat trou nie, want die Israeliete het ’n eed afgelê dat elkeen vervloek is wat vir ’n Benjaminiet ’n vrou gee.”

19. “Maar wag,” sê hulle. “Daar is mos elke jaar ’n fees vir die Here in Silo.” Silo is tussen Bet-El en Lebona. Dit is noord van Bet-El, oos van die grootpad wat van Bet-El af na Sigem toe opgaan en suid van Lebona.

20. Hulle het vir die Benjaminiete wat nog nie vroue gekry het nie, laat weet: “Gaan kruip weg in die wingerde.

21. Let mooi op. Sodra julle sien dat die meisies van Silo uitkom om te dans, moet julle uit die wingerde opspring en elkeen moet vir hom ’n vrou uit die meisies van Silo gaan vang. Gaan dan met hulle terug na julle huise in die gebied van Benjamin.

22. Wanneer hulle pa’s of broers by ons kom beswaar maak, sal ons vir hulle sê: ‘Julle moet tog verstaan. Ons kon nie genoeg vroue vir hulle in die hande kry toe ons teen Jabes-Gilead gaan oorlog maak het nie. Julle het nie die eed gebreek nie, want julle het nie doelbewus julle dogters vir hulle gegee nie.’”

23. Die Benjaminiete het toe so gemaak. Toe die meisies uitkom om te dans, het hulle vir hulle genoeg vroue gegryp. Die Benjaminiete is met hulle weg na hulle eie grond toe. Hulle het hulle stede weer opgebou en daarin gaan woon.

24. Die vergadering van die Israeliete het toe ook uitmekaargegaan volgens hulle stamme en families. Elkeen is van daar af terug na sy grond toe.

25. In daardie tyd het Israel nog nie ’n koning gehad nie. Elkeen het gemaak soos dit vir hom reg was.

Lees volledige hoofstuk Rigters 21