Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:20-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. Die Israeliete het teenoor Gibea stelling ingeneem om teen die Benjaminiete te veg.

21. Die Benjaminiete het uit Gibea gestorm en op daardie dag 22 000 Israeliete doodgemaak.

22. Die Israeliete het hulle moed bymekaargeskraap en die volgende dag weer op dieselfde plek stelling gaan inneem as die eerste dag.

23. Dit was nadat hulle die vorige aand by die Here gaan kla het en Hom gevra het: “Moet ons weer teen ons volksgenote, die Benjaminiete, gaan veg?” Die Here het toe geantwoord: “Trek op en gaan veg teen hulle!”

24. Op die tweede dag het die Israeliete weer die Benjaminiete aangeval.

25. Die Benjaminiete het weer uit Gibea uitgestorm en hierdie keer 18 000 bedrewe soldate van Israel doodgemaak.

26. Die hele Israel het toe met sy leër na Bet-El toe gegaan en daar voor die Here gesit en huil en tot die aand toe gevas. Hulle het brandoffers en maaltydoffers vir die Here gebring.

27. Hulle het by die Here raad gevra. Die ark van die verbond met God was destyds by hulle in Bet-El.

28. Pinehas, die seun van Eleasar en kleinseun van Aäron, was destyds hulle priester. Hy het vir die Here gevra: “Moet ons aangaan met die geveg teen ons volksgenote, die Benjaminiete, of moet ons daarmee ophou?” Die antwoord van die Here was: “Trek weer op! Môre gaan Ek hulle in julle mag oorgee.”

29. Die Israeliete het toe ’n hinderlaag rondom Gibea opgestel.

30. Die Israeliete het weer op die derde dag teen Benjamin geveg. Hulle het op dieselfde plek teenoor Gibea gaan stelling inneem as die vorige kere.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20