Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan wes van Kirjat-Jearim in Juda. Dit word vandag nog Magane-Dan genoem.

13. Van daar het hulle deur die heuwels van Efraim getrek en by Miga se huis uitgekom.

14. Die vyf mans wat Lajis gaan verken het, het vir hulle makkers gesê: “Weet julle dat hier ’n huistempel is met ’n skouerkleed, afgodsbeeldjies en ’n godsbeeld? Julle weet wat om te doen.”

15. Hulle het daar afgedraai na Miga se huis toe waar die Leviet gebly het. Hulle het hom vriendelik gegroet.

16. Die 600 gewapende soldate het buite by die deur gaan staan.

17. Die vyf mans wat die land gaan verken het, het in die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die skouerkleed gevat. Die priester het by die deur gestaan.

18. Toe hy sien wat die vyf mans doen, het die priester vir hulle gevra: “Wat maak julle?”

19. “Bly stil,” het hulle vir hom gesê. “Hou jou mond! Kom saam met ons dat jy ons raadgewer en priester kan wees. Wat is vir jou beter: om een man se priester te wees of om ’n priester te wees vir al die mense van ’n stam in Israel?”

20. Die priester was heeltemal inskiklik om saam met hulle te gaan. Hy het die skouerkleed, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld saamgevat.

21. Hulle het toe weer ingedraai in die pad en verder gereis. Hulle het hulle kinders en hulle vee en besittings op die voorpunt gesit.

22. Toe hulle al ’n ent weg is van Miga se huis af, het Miga sy bure bymekaargemaak en die Daniete agternagesit.

23. Toe hulle naby kom, het hulle na die Daniete geroep. Die mense van Dan het omgedraai en vir Miga gevra: “Wat is dit nou met jou dat jy mense teen ons bymekaargemaak het?”

24. Miga sê toe vir hulle: “Hoe kan julle nog vra wat is dit met my? Julle het my afgode wat ek vir my gemaak het en my priester saam met julle gevat. Ek het niks oor nie.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 18