Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 15:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Dit was die tyd toe die koring geoes is. Simson het ’n bokkie gevat om vir sy vrou te gee. Hy het vir homself gesê: “Ek wil by my vrou gaan slaap.” Haar pa wou hom nie laat ingaan nie.

2. “Ek het dan gedink jy haat haar,” het haar pa gesê. “Ek het jou strooijonker met haar laat trou. Maar haar jonger sussie is mooier as sy. Jy kan haar maar in haar suster se plek kry.”

3. Simson sê toe vir hulle: “Ek is hierdie keer onskuldig vir wat ek nou met die Filistyne gaan aanvang.”

4. Hy het 300 jakkalse gaan vang en hulle sterte twee-twee aan mekaar vasgemaak. Tussen elke twee sterte het hy ’n fakkel vasgemaak.

5. Hy het die fakkels toe aan die brand gesteek en die jakkalse in die graan van die Filistyne ingejaag. Hy het die gerwe en die miedens, alles laat afbrand. Hy het ook die wingerde en die olyfboorde vernietig.

6. “Wie het dit gedoen?” het die Filistyne gevra. “Dit was Simson, die skoonseun van die man uit Timna. Hy het Simson se vrou vir sy strooijonker gegee,” het hulle gesê. Die Filistyne het toe gekom en haar en haar pa laat doodbrand.

7. Simson het wraak gesweer: “Omdat julle dit gedoen het, gaan ek nie ophou voordat ek my op julle gewreek het nie.”

8. Hy het hulle met geweld aangeval en ’n geweldige slagting onder hulle aangerig. Hy het daarna in ’n skeur by die rots van Etam gaan woon.

9. Die Filistyne wou wraak neem en het in Juda kamp opgeslaan. Hulle het Legi geplunder.

Lees volledige hoofstuk Rigters 15