Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 32:2-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Die mense van Gad en Ruben het toe na Moses, die priester Eleasar en die leiers gekom en vir hulle gesê:

3. “Die Here het die streke Atarot, Dibon, Jaser, Nimra, Gesbon, Elale, Sibma, Nebo en Baäl-Meon

4. vir die volk van Israel verower. Dit is goeie veewêreld. Ons het baie vee.

5. As julle saamstem,” het hulle gesê, “gee dan eerder vir ons hierdie gebied as grond in plaas daarvan dat ons deurtrek en grond aan die oorkant van die Jordaan gaan beset.”

6. Moses sê toe vir die Gadiete en Rubeniete: “Moet julle broers dan gaan oorlog maak en julle bly ewe rustig hier?

7. Waarom wil julle die ander Israeliete terughou om oor te trek na die land wat die Here vir hulle sal gee?

8. Dit is presies wat julle voorouers gedoen het toe ek hulle van Kades-Barnea af gestuur het om die land te gaan bekyk.

9. Nadat hulle deur die Eskolspruit gegaan het en die land verken het, het hulle die Israeliete probeer terughou om nie na die land toe te gaan wat die Here vir hulle sou gee nie.

10. Die Here het toe baie kwaad geword vir hulle en gesweer

11. dat niemand bo twintig jaar oud wat uit Egipte getrek het, die land sou sien wat Hy met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het nie. Hulle was nie getrou aan die Here nie.

12. Net Kaleb, die seun van Jefunne, die Kenassiet, en Josua, die seun van Nun, sou die land sien. Hulle was getrou aan die Here.

13. Die Here was so kwaad vir Israel dat Hy hulle 40 jaar lank deur die woestyn laat rondtrek het, totdat daardie hele geslag wat teen Hom oortree het, uitgesterf het.

14. Hier kom julle nou, julle sondige mense, en julle maak net soos julle voorouers! Julle maak die Here selfs nog meer kwaad vir Israel.

15. As julle nou die rug op Hom draai en Hy laat die volk nog langer in die woestyn bly, gaan julle hierdie hele nasie vernietig.”

16. Hulle het Moses geantwoord: “Ons wil maar net intussen krale hier bou vir ons vee en veilige blyplek vir ons gesinne.

17. Ons sal egter dadelik ons wapens vat en voor die Israeliete uittrek totdat ons hulle by hulle blyplek gebring het. Intussen kan ons gesinne veilig wees teen die inwoners van die land in die plekke wat ons gebou het.

18. Ons sal nie na ons blyplekke toe terugkom voordat elke Israeliet sy deel gekry het nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 32