Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 25:3-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Hulle het begin om vir Baäl-Peor te aanbid. Die Here was baie kwaad vir Israel.

4. Die Here het vir Moses opdrag gegee: “Kry al die leiers van die volk bymekaar. Hang hulle in die helder dag by die tabernakel op sodat die Here se woede kan bedaar.”

5. Moses het die stamhoofde van Israel aangesê om elke persoon wat Baäl-Peor begin aanbid het, dood te maak.

6. Terwyl Moses en die gemeenskap nog so by die ingang van die tabernakel gestaan en huil het, het ’n man uit Israel openlik daar aangekom met ’n vrou uit Midian.

7. Toe die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, dit sien, het hy tussen die mense opgespring en ’n spies gegryp.

8. Hy het die man agternagesit na sy tent toe. Hy het die spies dwarsdeur die Israeliet en deur die vrou se maag gegooi. Dit het die plaag wat oor Israel gekom het, laat ophou.

9. Daar het 24 000 mense aan die plaag gesterf.

10. Die Here sê toe vir Moses:

11. “Die priester Pinehas, seun van Eleasar, die seun van Aäron, het my woede van die Israeliete af weggevat toe hy my eer onder hulle beskerm het. Dit het verhoed dat Ek die Israeliete ter wille van my Naam voor die voet uitgewis het.

12. Sê vir hom dat Ek ’n onvernietigbare vredesverbond met hom sluit.

13. Volgens hierdie ooreenkoms sal hy en sy nageslag vir altyd my priesters wees. Omdat hy sy God se eer beskerm het, het hy versoening gebring vir die Israeliete.”

14. Die Israelitiese man wat saam met die Midianitiese vrou doodgemaak is, se naam was Simri, die seun van Salu. Hy was een van die leiers uit die stam van Simeon.

15. Die Midianitiese vrou wat doodgemaak is, se naam was Kosbi, die dogter van Sur, een van die leiers van die Midianiete.

Lees volledige hoofstuk Numeri 25