Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:7-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Die leiers van Moab en die leiers van Midian is toe daar weg met geld vir ’n voorspelling. Hulle het by Bileam gekom en Balak se woorde aan hom oorgedra.

8. Hy het vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor. Ek sal vir julle môre sê wat die Here sê.” Hulle het toe by hom oornag.

9. Daardie nag het die Here na Bileam gekom. Hy het hom gevra: “Wie is hierdie mans hier by jou?”

10. Hy het vir Hom gesê: “Sippor se seun, Balak, die koning van Moab, het hulle na my toe gestuur met die boodskap:

11. ‘’n Volk het uit Egipte getrek. Hulle is die land vol. Hulle het hulle reg teenoor my kom vestig. Kom tog en vervloek hierdie volk vir my. Miskien kan ek hulle dan oorwin en uit die land verdryf.’”

12. “Moenie saam met hulle gaan nie,” het God vir Bileam gesê. “Jy mag die volk nie vervloek nie. Ek het hulle geseën.”

13. Vroeg die volgende oggend het Bileam opgestaan en vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe. Die Here het vir my gesê ek mag nie saam met julle gaan nie.”

14. Hulle is terug Moab toe en het vir Balak gesê: “Bileam weier om saam met ons te kom.”

15. Balak het toe weer probeer. Hy het hierdie keer belangriker amptenare as die eerste keer na Bileam toe gestuur.

16. Hulle is na Bileam toe en het vir hom gesê: “So sê Balak, die seun van Sippor: ‘Moenie dat iets jou terughou om na my toe te kom nie.

17. Ek sal jou deeglik vergoed. Ek sal vir jou gee net wat jy vra. Kom tog nou en kom vervloek hierdie volk vir my.’”

18. Bileam het Balak se amptenare geantwoord: “Selfs al gee Balak vir my sy hele paleis vol silwer en goud, kan ek niks meer of minder doen as wat die Here my God vir my beveel het nie.

19. Julle moet ook ’n nag hier oorbly. Laat ek hoor of die Here nie nog iets verder het om vir my te sê nie.”

20. Daardie nag het die Here na Bileam toe gekom en vir hom gesê: “Hierdie mans het jou kom ontbied. Gaan dan nou saam met hulle. Jy mag egter net doen wat Ek vir jou sê.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 22