Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:31-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

31. Toe het die Here Bileam se oë laat oopgaan. Hy sien toe die engel van die Here in die pad staan met die swaard in sy hand. Hy het toe vooroor op die grond geval.

32. “Hoekom het jy die donkie nou al drie keer geslaan?” vra die engel van die Here vir hom. “Ek het gekom om jou voor te keer, want jy is op die verkeerde pad.

33. Die donkie het my gesien en drie keer al probeer wegdraai. Drie keer kon ek jou al doodgemaak het en die donkie laat bly leef het.”

34. Bileam bely toe voor die engel van die Here: “Ek het ’n fout gemaak. Ek het nie gesien u staan voor my in die pad nie. As dit vir u verkeerd is dat ek gaan, sal ek liewer omdraai.”

35. Die engel van die Here sê vir Bileam: “Gaan tog nou saam met die mans. Maar net wat ek vir jou voorsê, mag jy ook sê.” Bileam het toe saam met die amptenare gegaan.

36. Toe Balak hoor dat Bileam op pad is, het hy gegaan om hom te ontmoet by ’n Moabitiese stad op die grens van sy gebied, in die omgewing van die Arnonrivier.

37. Balak het vir Bileam gevra: “Ek het jou dan dringend ontbied om na my toe te kom. Hoekom het jy nie dadelik gekom nie? Glo jy dan nie dat ek jou kan beloon nie?”

38. Bileam sê vir Balak: “Ek het dan nou gekom. Ek kan net sê wat God my laat sê.”

39. Bileam is toe saam met Balak na Kirjat-Gusot toe.

40. Balak het beeste en skape geslag. Hy het vir Bileam en die amptenare wat by hom was daarvandaan gestuur.

41. Die volgende oggend het Balak vir Bileam saam met hom na Bamot-Baäl gevat. Van daar af kon hy sien tot waar die volk staan.

Lees volledige hoofstuk Numeri 22