Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 19:3-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

3. Gee haar vir die priester Eleasar. Hy sal haar buite die kamp vat waar sy voor hom geslag sal word.

4. Eleasar sal dan van die bloed vat en dit met sy vinger sewe keer voor die tabernakel gaan sprinkel.

5. Terwyl hy toekyk, moet die vel, die karkas, die bloed en die binnegoed verbrand word.

6. Hy moet sederhout, ’n hisoptakkie en rooi wol in die vuur gooi waarin die koei verbrand word.

7. “Die priester moet dan sy klere en homself met water was. Daarna kan hy na die kamp toe teruggaan. Die priester is egter onrein tot die aand toe.

8. Die persoon wat die koei verbrand het, moet ook sy klere en homself met water was. Hy is ook onrein tot die aand toe.

9. Iemand wat rein is, moet dan die as van die koei bymekaarmaak en dit buite die kamp op ’n plek gaan uitgooi wat daarvoor eenkant gesit is. Dit sal daar gehou word vir die gemeenskap van Israel om in die water van die reinigingseremonie te gebruik.

10. Die man wat die as bymekaargemaak het, moet ook sy klere was. Hy is ook onrein tot die aand toe. Dit is ’n onveranderbare voorskrif vir sowel die Israeliete as die vreemdelinge wat tydelik by hulle bly.

11. “Iemand wat aan ’n lyk vat, is sewe dae lank onrein.

12. Hy moet homself op die derde en op die sewende dag reinig. As hy dit nie op die derde en sewende dag doen nie, sal hy onrein bly.

13. Iemand wat aan ’n lyk vat en homself nie reinig nie, maak die Here se tabernakel onrein. Hy sal uit die gemeenskap van Israel verwyder word. Omdat daar nie reinigingswater oor hom gesprinkel is nie, sal hy onrein bly.

14. “Die reël vir iemand wat in ’n tent doodgaan, is dat almal wat in daardie tent ingaan en almal wat reeds in die tent was toe hy dood is, onrein is vir sewe dae.

15. Enige leë houer waarop daar nie ’n deksel was nie, is ook onrein.

16. Iemand wat buite in die veld aan ’n lyk vat van iemand wat met ’n swaard doodgemaak is of vanself doodgegaan het, en iemand wat aan ’n mens se beendere of ’n graf vat, is vir sewe dae onrein.

17. “Vat van die as van die offer wat buite die kamp verbrand is, sit dit in ’n houer en gooi vars water daaroor uit om daarmee die onreinheid weg te vat.

18. Iemand wat rein is, moet ’n hisoptakkie vat en dit in die water doop. Hy moet daarvan teen die tent sprinkel en oor alles wat daarin is en oor enige mens wat daarbinne was. Hy moet dit ook sprinkel oor iemand wat aan doodsbeendere gevat het, of verontreinig is deur iemand wat vanself dood is of aan ’n graf gevat het.

19. Die rein persoon moet op die derde dag en die sewende dag water sprinkel oor dié wat onrein is. Op die sewende dag moet dié wat onrein was, hulle klere en hulleself was. Daardie aand sal hulle weer rein wees.

20. “Iemand wat onrein geword het en nie hulleself reinig nie, sal uit die gemeenskap verwyder word. Hulle het die Here se tabernakel onrein gemaak. Daar is nie reinigingswater oor hulle gesprinkel nie. Hulle bly onrein.

21. Dit is vir julle ’n reël wat onveranderlik vas staan. Die persoon wat die reinigingswater sprinkel, moet ook sy klere was. Enigeen wat aan die reinigingswater vat, sal onrein wees tot in die aand.

22. Enigeen aan wie die persoon wat onrein is vat, sal ook onrein wees tot die aand toe.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 19