Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 15:32-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. Terwyl hulle in die woestyn was, het hulle op ’n man afgekom wat besig was om op die Sabbat hout op te tel.

33. Die mense wat hom gevang het, het hom toe voor Moses, Aäron en die res van die gemeenskap gebring.

34. Hulle het hom aangehou omdat hulle nie geweet het wat om met hom te maak nie.

35. Die Here sê toe vir Moses: “Die man moet tereggestel word! Die hele gemeenskap moet hom buite die kamp met klippe doodgooi.”

36. Hulle het hom toe buite die kamp gevat en hom daar met klippe doodgegooi, soos die Here vir Moses gesê het.

37. Die Here het vir Moses gesê:

38. “Sê vir die Israeliete: Julle moet vir julle klossies maak om aan die soom van julle klere vas te werk. Elke geslag moet dit doen. Werk dit met blou gare aan julle klere vas.

39. Wanneer julle dit sien, sal julle aan al die gebooie van die Here dink sodat julle dit kan nakom. Moenie agter julle eie begeertes en wense aanhardloop soos julle geneig is om te doen nie.

40. Die klossies sal julle daaraan herinner om alles te doen wat die Here gesê het. Julle moet toegewyd wees aan julle God.

Lees volledige hoofstuk Numeri 15