Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 9:28-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

28. Maar sodra dit goed gaan, begin u volk weer sondig. U het toegelaat dat hulle vyande hulle weer oorwin. Elke keer as u volk hulp vra, het U maar weer gehoor uit die hemel. U het hulle keer op keer vrygemaakomdat U so baie vir hulle omgee.

29. U het hulle gewaarsku om u wet te gehoorsaam, maar hulle was hoogmoedig en wou nie u wette gehoorsaam nie. Mense wat u voorskrifte gehoorsaam, ontdek wat die lewe werklik is.Maar u voorskrifte het hulle oortree. Hulle het die rug op U gedraai en geweier om na U te luister.

30. U was vir baie jare geduldig met hulle.U het gereeld deur u Gees profete gestuur om hulle te waarsku, maar hulle wou nie luister nie! Daarom het U hulle weer oorgelewer aan die heidense inwoners van die land.

31. Maar omdat U meegevoelmet hulle het, het U hulle nie heeltemal uitgeroei of verwerp nie. U is ’n God wat liefdevol is en baie genade het!

32. “U is ons God, U is groot en magtig!U is die ongelooflike God. U hou die verbond en is getrou in u liefde. Moet tog nie al ons swaarkry geringskat nie. Ons en ons konings, ons leiers, priesters, profete, ons voorouers en die hele volk het gely vanaf die tyd van die Assiriese konings tot vandag toe.

33. Elke keer as U ons straf, was dit regverdig.U was reg,ons het verkeerd gedoen.

34. Ons konings en leiers, priesters en voorouers was ongehoorsaam aan u wet. Hulle het hulle nie gesteur aan u bevele en u waarskuwings nie.

35. Selfs in die tyd toe hulle eie konings oor hulle regeer het en U hulle baie voorspoedig gemaak het, het hulle U nie gedien nie. Al het U vir hulle ’n groot, vrugbare land gegee, het hulle nog steeds aangehou om verkeerde dinge te doen.

36. “En nou is ons vandag slawe!U het vir ons voorouers ’n vrugbare land gegee waar hulle voorspoed kon geniet.Nou is ons slawe daarin!

37. Die oorvloed van die land behoort nou aan die konings wat U aangestel het om oor ons te heers. Omdat ons gesondig het, het hulle mag oor ons en ons vee. Ons kry baie swaar, want hulle doen met ons net wat hulle wil.

38. “Ten spyte hiervan maak ons ’n plegtige belofte wat ons op skrif stel. Op hierdie verseëlde dokument staan die name van ons leiers, ons Leviete en priesters.”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 9