hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13

Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nehemia verdedig mense wat

onderdruk word

1. In hierdie tyd was daar ook ernstige klagtes van die volk en die vroue teen sommige van hulle mede-Jode.

2. Party van hulle het gesê: “Ons het groot families. Ons moet koring in die hande kry om te kan oorleef.”

3. Ander het gesê: “Ons het ons landerye, wingerde en huise verpand om gedurende die hongersnood kos in die hande te kry.”

4. Nog ander het gesê: “Ons het geld geleen om die koningsbelasting op ons landerye en wingerde te betaal.

5. Ons is almal familie van mekaar, ons kinders is vir hulle net soos hulle kinders. Tog moet ons ons kinders as slawe verkoop om net genoeg geld te kry om van te leef. Ons moes al van ons dogters verkoop. Ons is magteloos om iets daaraan te doen, want ons landerye en wingerde is alreeds aan ander mense verpand.”

6. Toe ek hulle klagtes hoor en al die dinge wat hulle sê, was ek baie kwaad.

7. Nadat ek dit goed oordink het, het ek die leiers en amptenare aangespreek en vir hulle gesê: “Julle buit julle eie mense uit deur geld teen rente aan hulle te leen!” Ek het toe ’n groot openbare vergadering oor die probleem belê.

8. By die vergadering het ek vir hulle gesê: “Ons het ons bes gedoen om ons Joodse volksgenote wat hulleself aan vreemde volke moes verkoop, vry te kry. Nou verkoop julle julle eie mense weer as slawe en ons moet hulle terugkoop!” Hulle was stil en het nie ’n woord gesê nie.

9. Ek het voortgegaan en gesê: “Wat julle doen, is nie reg nie! Behoort julle leefwyse nie te wys dat julle ons God respekteer nie? Die vyandige volke sou dan mos nie rede gehad het om julle te minag nie.

10. Ek, my familie en my werkers het self ook geld en graan aan van die mense geleen. Kom ons hou nou op om op hierdie manier geld teen rente uit te leen.

11. “Julle moet vandag nog hulle landerye, wingerde, olyfboorde en huise vir hulle teruggee. Betaal ook die rente terug wat julle op hulle geld, graan, wyn en olyfolie gehef het.”

12. Hulle het toe gesê: “Ons sal maak soos u sê. Ons sal alles teruggee en niks meer van hulle eis nie.” Ek het die priesters geroep en die leiers en amptenare ’n eed laat sweer dat hulle sal doen wat hulle beloof het om te doen.

13. Toe het ek ook my sakke uitgeskud en gesê: “Mag God julle net so uitskud uit julle huise en julle eiendom as julle nie julle belofte nakom nie!” Die vergadering het heelhartig daarmee saamgestem en die Here geprys. Die mense het hulle beloftes nagekom.

14. Ek was twaalf jaar lank goewerneur van Juda. Dit het gestrek vanaf die twintigste tot die 32ste jaar wat koning Artasasta regeer het. In dié tyd het nie ek of enige van my amptenare die kostoelaag waarop die goewerneur geregtig is, gebruik nie.

15. Maar dit was nie die geval met die goewerneurs wat my voorgangers was nie. Hulle het die mense swaar belas. Hulle het behalwe brood en wyn elke dag ook nog 460 gram silwer geëis. Selfs die goewerneurs se amptenare het van die mense misbruik gemaak. Maar ek het nie so opgetree nie omdat ek vir God ontsag het.

16. Ek het my aandag aan die bou van die muur gegee en nie vir my grond aangeskaf nie. Ek het ook van al my amptenare verwag om aan die muur te werk.

17. Ek het gereeld 150 Judeërs en amptenare aan tafel gehad. Dit was bo en behalwe die besoekers wat uit lande van die omgewing gekom het.

18. Elke dag moes hulle vir my ’n bees, ses slagskape en ’n groot hoeveelheid hoenders slag. Verder het ons elke tiende dag ’n groot verskeidenheid wyn nodig gehad. Ten spyte daarvan het ek geweier om die goewerneur se kostoelaag op te eis, want die werkslas op hierdie mense was alreeds baie swaar.

19. My God, onthou asseblief alles wat ek vir hierdie mense gedoen het. Wees daaroor goed vir my.