Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 4:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Maar ons het tot ons God gebid. Ons het die stad dag en nag bewaak om onsself teen hulle te beskerm.

10. Maar die mense van Juda het begin sê: “Die bouers is besig om moeg te word en daar is baie rommel wat ons moet verwyder. Ons sal die muur nie alleen kan bou nie.

11. “Boonop sê ons vyande: ‘Voordat hulle besef wat gebeur, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en bring ’n einde aan die bouery.’”

12. Die Jode wat naby die vyand gebly het, het herhaaldelik vir ons kom sê: “Hulle sal uit alle rigtings kom om ons aan te val!”

13. Ek het toe wagte agter die laagste dele van die muur geplaas waar daar oop gedeeltes was. Ek het ook mense by die families laat wagstaan, gewapen met swaarde, spiese en boë.

14. Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: “Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is. Veg vir julle vriende, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise!”

15. Toe ons vyande hoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit in die wiele gery het, kon elkeen van ons weer na ons werk aan die muur teruggaan.

16. Maar van toe af kon net die helfte van my mense met die werk aangaan. Die ander het met harnasse aan waggestaan, gewapen met spiese, skilde en boë. Die offisiere het agter die mense van Juda posisie ingeneem

17. terwyl hulle aan die muur gebou het. Die werkers wat die boumateriaal aangedra het, het hulle werk met net een hand gedoen. In die ander hand was ’n wapen.

18. Al die bouers het gewerk met ’n swaard aan hulle sye vasgemaak. Die trompetblaser het by my gebly om alarm te maak.

19. Ek het vir die leiers, amptenare en die res van die volk verduidelik: “Kyk, ons werk oor ’n groot gebied en ons is ver van mekaar af al langs die muur versprei.

20. As julle die trompet hoor blaas, kom vinnig by daardie punt bymekaar. Ons God sal vir ons veg!”

Lees volledige hoofstuk Nehemia 4