Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 13:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Op daardie selfde dag het hulle ook die boek van Moses vir die mense voorgelees. In die boek was ’n opdrag dat geen Ammoniet of Moabiet ooit in ’n byeenkoms van die volk van God mag kom nie.

2. Hierdie mense het destyds nie brood en water vir die Israeliete voorsien nie. Trouens, hulle het eerder vir Bileam gehuur om hulle te vervloek. Maar ons God het die vloek in ’n seën verander.

3. Nadat hulle gehoor het wat in die wet staan, het hulle dadelik mense van vreemde afkoms afgesonder van die Israeliete.

4. Net voordat dit gebeur het, het die priester Eljasib vir Tobija, ’n familielid van hom,

5. ’n groot vertrek by die tempel reggemaak. Eljasib was aangestel as toesighouer oor die stoorkamers van die tempel. Hierdie vertrek was voorheen gebruik om die graanoffers, wierook, tempelgereedskap, tiende porsies van die koring, nuwe wyn en olyfolie in te stoor. Hierdie offers was bedoel vir die Leviete, die sangers, die hekwagte en die priesters.

6. Ek was in hierdie stadium nie in Jerusalem nie. Ek het toe reeds na koning Artasasta van Babel teruggekeer. Dit was in sy 32ste jaar as koning. Ek het mettertyd by die koning toestemming gevra om na Jerusalem toe terug te gaan.

7. Met my terugkoms in Jerusalem het ek gehoor van die wandaad dat Eljasib vir Tobija ’n vertrek in die binneterrein van die tempel voorberei het.

8. Dit het my baie kwaad gemaak. Ek het al Tobija se besittings uit die vertrek uitgegooi.

9. Toe het ek opdrag gegee dat hulle die vertrekke moes reinig. Ek het die gereedskap van God se tempel, die graanoffers en die wierook daarheen teruggebring.

10. Ek het ook ontdek dat die Leviete nie hulle deel van die graanoffers gekry het nie. Hulle en die sangers wat diens gedoen het, het daarom na hulle eie grond toe teruggegaan.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 13