Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 9:12-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Aäron het toe ook die dier vir die brandoffer geslag. Sy seuns het vir hom die bloed gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

13. Hulle het die dier stuk vir stuk saam met die kop vir hom aangegee en hy het elke deel op die altaar verbrand.

14. Hy het toe die binnegoed en die bene gewas en dit ook as ’n brandoffer op die altaar verbrand.

15. Daarna het Aäron die offers vir die volk gebring. Hy het die bokram geslag en as sonde-offer vir die volk gebring net soos hy dit vir homself gedoen het.

16. Hy het toe ook die brandoffer gebring en dit op die voorgeskrewe manier geoffer.

17. Hy het ook ’n graanoffer gebring en ’n hand vol meel op die altaar verbrand, bo en behalwe die gebruiklike oggendbrandoffer.

18. Aäron het toe die bees en die ram as die volk se maaltydoffer geslag. Sy seuns het die bloed vir hom gebring en hy het dit teen die kante van die altaar gesprinkel.

19. Toe het hy die vet van die bul en die ram – die vet van die stert, die vet rondom die binnegoed, saam met die niere en die punt van die lewer – gevat en

20. dit bo-op die borsstukke van die diere gepak en dit toe op die altaar verbrand.

21. Aäron het die borsstukke en die regterboud opgelig as ’n offer vir die Here, net soos Moses beveel het.

22. Na al die dinge het Aäron sy hande uitgesteek na die volk toe en hulle geseën. Nadat hy die sonde-offer, die brandoffer en die maaltydoffer gebring het, het hy van die altaar af geklim.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 9