Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 15:19-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. “Wanneer ’n vrou menstrueer, is sy vir sewe dae lank onrein. As jy aan haar raak gedurende dié tyd, is jy onrein tot die aand toe.

20. Enigiets waarop sy gedurende dié tyd lê of sit, sal onrein wees.

21. As jy aan haar bed raak, moet jy jou klere was en bad in water en sal jy tot die aand toe onrein bly.

22. Dieselfde reëling geld wanneer jy aan iets raak waarop sy gesit het,

23. of dit nou haar bed is of enige ander meubelstuk.

24. As ’n man gedurende dié tyd seksuele omgang met haar het, word haar menstruele onreinheid op hom oorgedra. Hy is dan onrein vir sewe dae en enige bed waarop hy lê, sal onrein wees.

25. “As die menstruele bloedvloeiing vir baie meer dae aanhou as wat normaalweg die geval is, of as daar ’n afskeiding van bloed buite haar menstruasieperiode is, is so ’n vrou onrein so lank as wat die afskeiding aanhou.

26. Enigiets waarop sy lê of sit gedurende dié tyd, sal onrein wees, net soos in die geval van haar normale menstruasieperiode.

27. As jy raak aan haar bed of enigiets waarop sy sit, sal jy onrein wees. Jy sal jou klere moet was en in water bad en jy sal onrein wees tot die aand toe.

28. “As ’n vrou se menstruele afskeiding ophou, moet sy sewe dae lank wag. Daarna sal sy rein wees.

29. Op die agtste dag moet sy twee tortelduiwe of twee jong duiwe bring en dit vir die priester by die ingang van die tent van ontmoeting gee.

30. Die priester sal dan een as ’n sonde-offer en die ander een as ’n hele brandoffer bring. Op dié manier sal die priester in die teenwoordigheid van die Here versoening doen vir haar menstruele afskeiding.

31. “Op dié manier sal jy die volk Israel afsonder van dinge wat hulle onrein maak sodat hulle nie sal sterf omdat hulle my tent van ontmoeting hier in hulle midde verontreinig het nie.

32. Dit is die instruksies wat geld vir ’n man met ’n afskeiding uit die geslagsorgaan of ’n saadstorting,

33. vir ’n vrou wat menstrueer, vir enigiemand, man of vrou, wat enige soort liggaamlike afskeiding het en ook vir die man wat seksuele omgang het met ’n vrou wat menstrueer.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 15