Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13:34-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

34. Hy moet dan die infeksie weer op die sewende dag ondersoek. As dit nie versprei het nie en dit lyk nie na iets meer as net veldiep nie, moet die priester die persoon rein verklaar. Nadat sy klere gewas is, sal hy rein wees.

35. As die infeksie begin versprei nadat die persoon rein verklaar is,

36. moet die priester nog ’n ondersoek doen. As die infeksie versprei het, moet hy die persoon onrein verklaar, selfs sonder om te kyk of daar geel hare is.

37. As dit lyk of die infeksie nie meer versprei nie en swart hare begin groei op die aangetaste deel, het die infeksie gesond geword. Die priester sal dan die besmette persoon rein verklaar.

38. “As enigiemand, ’n man of vrou, wit vlekke op die vel het,

39. moet die priester die aangetaste deel ondersoek. As die plek net bleek-wit lyk, is dit ’n skadelose veluitslag en is die persoon rein.

40. “As ’n man sy hare verloor en hy word bles, is hy nog steeds rein.

41. As hy sy hare op sy voorkop verloor, het hy net ’n bles voorkop, maar is hy steeds rein.

42. As daar egter ’n rooi-wit ontsteking op die voor- of agterkop ontstaan, is dit ’n aansteeklike velsiekte.

43. Die priester moet hom ondersoek en as hy ’n swelsel ontdek rondom die rooi-wit seer,

44. het die man ’n aansteeklike velsiekte en is hy onrein. Die priester moet hom dan as gevolg van die ontsteking onrein verklaar.

45. “Mense wat aan enige aansteeklike velsiekte ly, moet hulle klere skeur en hulle hare laat los hang. Soos wat hulle van plek tot plek gaan, moet hulle hulle monde bedek en uitroep: ‘Onrein! Onrein!’

46. So lank as wat die siekte aanhou, is hulle onrein en moet hulle buite die kamp in afsondering leef.”

47. “As ’n skimmel op ’n kledingstuk verskyn,

48. of op wol- of linnemateriaal, of op die vel van ’n dier of enigiets wat van leer gemaak is,

49. en die skimmel het ’n groenerige en rooierige kleur aan die klere, of die dierevel, of die materiaal of die leer, is dit besmet met ’n aansteeklike soort skimmel. Dit moet na die priester toe geneem word om ondersoek te word.

50. Ná die ondersoek van die priester moet hy dit vir sewe dae lank eenkant wegbêre.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 13