Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 15:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Die lot het vir die stam van Juda op ’n gebied geval wat suidwaarts gestrek het tot aan die verre suidekant van die Sinwoestyn teen die grens van Edom.

2. Juda se suidelike grens het dus by die suidelike punt van die Dooie See begin.

3. Van daar loop dit suid by Skerpioenhoogte verby na die woestyn van Sin toe, dan suid van Kades-Barnea verby, oor na Gesron toe, dan loop dit op na Addar en swaai daarna weg na Karka toe.

4. Daarvandaan loop dit oor na Asmon toe en met die Egiptespruit langs totdat dit in die Middellandse See doodloop. Dit is Juda se suidelike grens.

5. Die oostelike grens loop langs die oewer van die Dooie See tot waar die Jordaan uitmond in die see. Die noordelike grens begin waar die Jordaan in die see inloop,

6. loop dan op na die gebied van Bet-Gogla, gaan noord van Bet-Araba verby tot by die Klip van Bohan, wat na die seun van Ruben vernoem is.

7. Van daar gaan dit deur die Akorlaagte na Debir, dan swaai dit noord na Gilgal, regoor Adummims-hoogte suid van die spruit. Dan loop die grens verder tot by Semesfontein en Rogelfontein.

8. Dit gaan dan verder met die Ben-Hinnomsdal op teen die suidelike hang van Jebusieteberg, waar Jerusalem vandag is. Dit gaan dan na die kruin van die berg bo die Hinnomsdal en dan na die noordelike punt van Spooklaagte.

9. Van bo van die berg af draai die grens na die Neftoagsfontein toe, en loop dan aan na die dorpe teen Efronberg en draai daarna na Baäla toe, dit is Kirjat-Jearim.

10. Dit loop om Baäla en swaai dan wes na Seïrberg toe, verby die noordelike hang van Jearimsberg, dit is Kesalon, loop dan af na Bet-Semes en na Timna toe.

11. Dit gaan dan met die noordelike skuinste van Ekron langs en draai na Sikaron toe oor die Baälaberg verby Jabne, tot waar dit in die Middellandse See doodloop.

12. Die westelike grens is die kuslyn van die Middellandse See. Dit is die grense rondom die gebied van die nasate van Juda.

13. Soos die Here Josua beveel het, het hy aan Kaleb, die seun van Jefunne, ’n eie gebied toegeken tussen die mense van Juda. Hy het Kirjat-Arba, dit is Hebron, gekry, wat na een van die voorouers van die Enakiete vernoem is.

14. Kaleb het die drie Enakiet- groepe van Sesai, Agiman en Talmai uit Hebron verdryf, almal nasate van Enak.

15. Van daar af het Kaleb die inwoners van Debir gaan aanval. Debir se naam was voorheen Kirjat-Sefer.

16. Kaleb het gesê: “Ek gee my dogter Aksa as vrou vir die man wat Kirjat-Sefer aanval en verslaan.”

Lees volledige hoofstuk Josua 15