Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 7:10-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Nie lank hierna nie het die Here my met hierdie boodskap na koning Agas gestuur:

11. “Vra vir ’n teken van die Here jou God, enigiets wat jy wil, en maak dit so moeilik as wat jy kan.”

12. Maar die koning het geweier. “Nee,” het hy geantwoord, “ek sal nie die Here beproef nie.”

13. Toe het Jesaja gesê: “Luister baie mooi, julle koninklike familie van Dawid! Julle is nie tevrede om my geduld te beproef nie. Nou beproef julle God se geduld ook!

14. Nou goed dan, die Here sal dan self ’n teken kies. Die jong vrou sal verwagtend raak. Sy sal geboorte skenk aan ’n seun en hom Immanuel noem.

15. Teen die tyd dat die seun oud genoeg is om dikmelk en heuning te eet, sal hy genoeg weet om te kies wat reg is en te verwerp wat verkeerd is.

16. Maar voordat hy kan kies tussen reg en verkeerd, sal die twee konings vir wie jy so bang is, albei dood wees.

17. “Die Here sal binnekort verskriklike tye oor jou, jou volk en jou familie bring, erger as in al die jare vandat Salomo se koninkryk in Israel en Juda geskeur het: Hy bring die magtige koning van Assirië met sy groot leër!”

18. Daardie dag sal die Here fluit vir die vlieë wat by die verste riviere van Egipte is, en vir bye in Assirië.

19. Hulle kom in groot hordes en gaan die hele land tref. Hulle sal in die diep valleie, gate in die rotse, al die doringbosse en weivelde gaan sit.

20. Daardie dag sal die Here hierdie skeermes gebruik, die Assiriërs wat julle gehuur het om julle te beskerm. En Hy sal alles afskeer: die hare op julle kop, julle beenhare en julle baarde.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 7