Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 7:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Gedurende die regering van koning Agas van Juda, seun van Jotam en kleinseun van Ussia, het koning Resin van Aram en koning Peka van Israel, seun van Remalja, Jerusalem aangeval. Die stad het die aanval oorleef.

2. Die nuus het die koninklike hof bereik: “Aram het ’n bondgenootskap met Israel teen ons gesluit!” Toe het die koning en sy mense soos bome in ’n stormwind gebewe van vrees.

3. Die Here het vir Jesaja gesê: “Gaan uit om koning Agas te ontmoet, jy en jou seun Sear-Jasub. Jy sal die koning kry waar hy op pad is na die veld waar klere gebleik word, by die punt van die kanaal uit die boonste dam.

4. Sê vir hom hy moet versigtig wees en kalm bly en nie bang word nie. Hy moet nie moedeloos word oor die woede van hierdie twee uitgebrande stukke hout nie, vir koning Resin van Aram en Peka, seun van Remalja nie.

5. “Ja, die konings van Aram en Israel is op pad om jou aan te val. Hulle sê:

6. ‘Kom ons val Juda binne en jaag sy mense die skrik op die lyf. Kom ons vat dit vir onsself en stel die seun van Tabeal aan as koning.’

7. “Maar so sê die oppermagtige Here: Hierdie inval sal nooit gebeur nie,

8. want Aram is nie sterker as sy hoofstad, Damaskus, nie. En Damaskus is nie sterker as sy koning Resin nie. Wat Israel betref, binne 65 jaar sal die volk heeltemal vernietig wees.

9. Israel is nie sterker as sy hoofstad, Samaria, nie. En Samaria is nie sterker as sy ko-ning, Peka seun van Remalja, nie. Julle glo My nie? As julle My nie wil vertrou nie, sal julle nie staande bly nie.”

10. Nie lank hierna nie het die Here my met hierdie boodskap na koning Agas gestuur:

11. “Vra vir ’n teken van die Here jou God, enigiets wat jy wil, en maak dit so moeilik as wat jy kan.”

Lees volledige hoofstuk Jesaja 7