Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 19:18-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

18. Daardie dag sal vyf Egiptiese stede die Here, die Almagtige, volg. Hulle sal selfs Hebreeus praat. Een van hulle sal die Stad van Verwoesting genoem word.

19. Daardie dag sal daar ’n altaar vir die Here in die hart van Egipte wees, en ’n monument vir die Here by sy grens.

20. Dit sal ’n teken en getuienis wees van die Here, die Almagtige, se teenwoordigheid in Egipte. Wanneer die mense na die Here om hulp roep wanneer hulle verdruk word, sal Hy iemand stuur wat hulle sal beskerm en red.

21. Daardie dag sal die Here Homself aan die mense van Egipte openbaar. Ja, hulle sal die Here ken en diere-offers en graanoffers vir Hom bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak, en dit nakom.

22. Die Here sal die Egiptenaars slaan sodat Hy hulle kan genees, en hulle sal terugkom na die Here. Hy sal luister as hulle om hulp roep en hulle gesond maak.

23. Daardie dag sal Egipte en Assirië met ’n hoofpad verbind wees. Die Egiptenaars en Assiriërs sal vrylik tussen hulle lande beweeg, en hulle sal dieselfde God dien.

24. Israel sal hulle bondgenoot wees. Die drie sal saamwerk, en Israel sal vir hulle tot ’n seën wees.

25. Die Here, die Almagtige, sal sê: “Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.”

Lees volledige hoofstuk Jesaja 19