Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 11:8-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Babas sal veilig tussen giftige slange speel. ’n Kindjie sal sy hand uitsteekna giftige slange en niks oorkom.

9. Niks of niemand sal op my heilige berg verwoesting of kwaad aanrig nie. Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken.

10. Daardie dag sal die erfgenaam van Dawid se troon ’n vlag opsteek wat vir die hele wêreld redding sal bring. Die nasies sal na hom toe kom, want die land waar hy bly, sal ’n heerlike plek wees.

11. Op daardie dag sal die Here vir die tweede keer ’n oorblyfsel van sy volk terugbring, almal wat oorgebly het uit Assirië, Egipte, Patros, Etiopië, Elam, Babilonië, Hamat en die kuslande.

12. Hy sal ’n vlag tussen die nasies oprig en die ballinge van Israel sal van die uithoeke van die aarde daarheen kom.

13. Dan sal die naywer tussen Israel en Juda verdwyn. Hulle sal nie meer met mekaar baklei nie. Israel sal nie weer op Juda jaloers wees nie, en Juda sal nie meer vyandig wees teenoor Israel nie.

14. Saam sal hulle die Filistyne in die weste aanval. En saam sal hulle die nasies in die ooste aanval en hulle plunder. Hulle sal die lande van die Edomiete, Moabiete en Ammoniete verower.

15. Die Here sal die Egiptiese see laat opdroog. Hy sal ’n skroeiende wind oor die Eufraat laat waai en ’n sterk wind stuur wat dit in sewe kanale sal verdeel waar ’n mens maklik kan deurloop.

16. Hy sal ’n hoofpad maak vir die oorblyfsel wat nog in Assirië is, net soos vir Israel toe hulle uit Egipte teruggekom het.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 11