Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:19-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

19. “Soos ’n leeu wat by die Jordaanrivier uit die bosse kom op soek na groen weivelde,so sal Ek hulle uit hulle eie land verjaag. Ek sal ’n leier van my keuse aanstel. Wie kan met My vergelyk word? Wie sal My uitdaag? Watter leier kan My opponeer?

20. Luister na die Here se plannevir Edom en vir die mense van Teman: Selfs die klein kindertjiessal weggesleep word. En hulle huise sal leeg staan.

21. Wanneer Edom tot ’n val kom,sal die aarde skud. Hulle geroep sal weerklinktot so ver as die Rietsee.

22. Kyk! Die vyand kom vinnigsoos ’n arend wat sy vlerke uitsprei en hoog vlieg en dan op sy prooi toesak. So sal die vyand met Bosra maak. Daardie dag sal die dapperste soldate net so bang wees soos ’n vrou wat geboorte gee.”

23. Oor Damaskus. Die Here sê: “Hamat en Arpad is ontsteld,hulle het slegte nuus gehoor.Hulle is ontmoedig, onrustig soos ’n onstuimige see.

24. Damaskus is moedeloos. Sy het omgedraai om te vlug,paniek het oor hulle toegesak.Angs het hulle beetgepak,bekommernis en pyn oorweldig hulle, soos vir ’n vrou wat geboorte gee.

25. Die stad is beroemd, bekend vir vrolikheid. Hoe is dit moontlik dat so ’n stad nou verlate kan wees?

26. Die jong mans sal op die strate valen doodgaan. Al die soldate sal sterf,” sê die Here, die Almagtige.

27. “Ek sal ’n vuur in Damaskus aan die brand steek wat al koning Ben-Hadad se paleise sal afbrand.”

28. Die boodskap gaan oor Kedar en die koninkryke van Gasor. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval. Die Here sê: “Maak reg en val Kedar aan! Vernietig die mense uit die ooste!

29. Hulle tente en vee sal geplunder worden hulle skuilings, besittings en kamele weggedra word. Mense sal uitroep: ‘Daar is oral gevaar!’

30. “Vlug vir julle lewens! Gaan kruip weg in grotte, inwoners van Gasor,”sê die Here. “Koning Nebukadnesar van Babel smee ’n komplot teen julle. Hy gaan ’n plan teen julle in aksie stel.”

31. Die Here se opdrag is: “Val die volk aan wat so rustig is,hulle wat so veilig woon. Hulle woon afgesonderd,sonder deure of hekke.

32. Al hulle kamele sal buit wees,hulle groot getalle vee is daar om te plunder. Ek sal hierdie mense wat in afgesonderde plekke woon, in alle windrigtings verjaag.Ek sal sorg dat rampe hulle van alle kante af tref,” sê die Here.

33. “Gasor sal ’n eensame en verlate plek wees. Niemand sal meer daar woon nie. Dit sal ’n lêplek wees vir jakkalse.”

34. Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap oor Elam gegee. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het.

35. Die Here, die Almagtige, sê: “Ek sal die pyl en boog van Elam, die setel van hulle mag,aan stukke breek.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49