Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 39:7-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek. Hy het hom met kettings geboei en hom na Babel weggevoer.

8. Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise afgebrand. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.

9. Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in die stad oorgebly het, die res van die mense van Juda en dié wat reeds na die Babiloniërs oorgeloop het, na Babel toe weggevoer.

10. Maar Nebusaradan het van die armste mense in Juda agtergelaat. Hy het by dié geleentheid vir hulle wingerde en landerye gegee.

11. Koning Nebukadnesar van Babel het aan Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, opdragte oor Jeremia gegee. Hy het gesê:

12. “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”

13. Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, het die senior offisier Nebusasban en Nergal-Sareser, die koning se adviseur, en ook nog ander offisiere gestuur.

14. Hulle moes Jeremia uit die tronk haal. Hulle het hom in die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, geplaas. Hy het Jeremia na sy huis toe gevat. So kon Jeremia weer tussen sy mense bly.

15. Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

16. “Sê vir Ebed-Melek die Etiopiër die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan alles aan Jerusalem doen wat Ek gedreig het om te doen. Vir die stad wag daar nie goeie nie, maar slegte dinge. As die tyd kom, sal jy dit sien gebeur.

17. Dan sal Ek jou red, sê die Here. Jy sal nie oorgelewer word in die mag van dié mense vir wie jy so bang is nie.

18. Omdat jy My vertrou, sal Ek jou lewe spaar. Jy sal nie in die oorlog sterf nie, Ek sal sorg dat jy veilig is. Dit is wat Ek, die Here, sê sal gebeur!’”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 39