Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Ebed-Melek het toe die manne saam met hom geneem na ’n pakkamer onder die stoorkamer van die paleis. Hulle het lappe en ou klere daar gevind, wat hulle na die put toe geneem het. Hulle het dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.

12. Ebed-Melek die Etiopiër het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat die toue jou nie seermaak nie.” Jeremia het toe so gemaak.

13. Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis se gevangenis gebly.

14. Op ’n dag het koning Sedekia die profeet Jeremia laat haal. Hulle het mekaar by die derde ingang van die tempel ontmoet. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou ’n vraag vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”

15. Jeremia het Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.”

16. Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia gesweer: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorlewer aan die mense wat jou dood wil sien nie.”

17. Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie.

18. Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38